Die Weltevrede-storie is een van Afrikanerskap, Burgerskap, Christenskap en Diensbaarheid. Dit is ‘n storie van nooit opgee (enduit voluit te volhard) en altyd vooruit te gaan. Die storie is al 55 Jaar oud en vorm deel van Die Voortrekkers en die plaaslike gemeenskap se geskiedenis. Daar is mense wat diep spore getrap het en onbaatsugtig hulle tyd en liefde vir Die Voortrekkers en jeuglede gegee het om dié storie nog verder te laat voortleef vir die volgende 55 en meer jare!
Die kommando word op 5 Mei 1965 gestig met 20 jeuglede en 9 offisiere. Die eerste kommandant is neef Tinus Rautenbach.
1966 Die kommando lê ’n voorstel by die Transvaalse gebiedsbestuur voor dat die bepaling dat Voortrekkers 8 jaar oud moet wees vir inlywing, gewysig word na skoolgaande ouderdom en voldoening aan inlywingsvereistes. Dit is aanvaar.
1967 Neef Pieter Liebenberg word as kommandant gekies. Die kommando neem deel aan die Voortrekkers se radiosaamtrek, later bekend as C.Q. Hou Koers.
1968 ’n Saamtrek van sowat duisend Voortrekkers by Carletonville word deur 40 lede van Weltevrede kommando bygewoon. Die eerste groepie verkenners woon die Lunsklipkamp by.
1969 Dertig P/D‘s en elf verkenners verwerf die brandweerkenteken. Nig Raubie begin haar nege jaar termyn as kommandant.
1970 Nig Raubie verwerf haar silwerjuk. Oom Gert Visser en neef Willie Esterhuyse sal ’n ou tjor opbou om die kinders ander belangstelling te gee.
1971 ’n Herfsloop oor 15 km word gehou om fondse in te samel.
1973 Die kommando neem vir die eerste keer aan die vlotvaart deel.
1974 Die kommandokamp word gehou by Rondalia Buffelspoort. In September word Anna van der Vyver as sekretaresse gekies.
1975 Die kommandokamp word gehou by Pietie le Roux- terrein. ’n Vlotvaartkamp word later die jaar gehou by Hartebeespoortdam.
1976 Die kommandokamp word weer op Pietie le Roux terrein gehou.
1978 Anna van der Vyver word as kommandant gekies. ’n Kompetisiekamp vir st. 3 tot st. 6 word vir die kommando ingestel en vind plaas op die Kloof- en Dal- terrein.
1979 Vir die junior P/D‘s word ’n kompetisiekamp gehou by Rietvlei.
1980 ’n Lenteloop lewer R1200 op. Die eerste Streek 23 kaskarwedrenne word gehou. Die kommandokamp by Rabuni het 100% bywoning van jeuglede. Gedurende die normale uitvoering van haar pligte tydens die kamp ry Nig Anna wipplank in ’n venster waardeur sy wou klim. Nadat verskeie van die kommando se verkenners dit moeilik gevind het om in hul hoërskooljare by ander kommando’s in te skakel, besluit die kommando om hoërskoolverkenners te behou en met hulle deur te gaan tot in matriek.
1981 ’n Aantal Voortrekkers van St 4 – 7 en offisiere neem deel aan die Eerste Vryheidsoorlog Eeufees by Majuba. ’n Groot aantal van ons lede woon die fees by die Voortrekkermonument by ter viering van die Voortrekkers se 50-jarige bestaan. Die Knysna Loeries (in St 5) woon die Transvaalse Kompetisiekamp by en wen die kooktrofee.
1982 Die kommandokamp word gehou op die Hartbeesfontein Voortrekkerplaas. Vir die eerste keer word veldkornette gekies. Die eerste verkennerkamp word op Oom Louw Swart se plaas gehou. Die Luiperds en Blousysies (St 5) word geblinddoek uit die kamp weggevoer onder voorwendsel dat hulle moet gaan help by ’n treinongeluk. Hulle word op ’n vlot in die plaasdam as verkenners ingelyf.
1983 Die Blousysies (St 6 dogters) stap die Prospekteerdersroete, die Buffels (St 7 seuns) doen die kuswagkenteken by Margate en die Knysna Loeries kom tweede by die kompetisiekamp en wen die paradewerk- en sangtrofeë. Agt van die kommando se offisiere en een heemraadslid lewer diens by Thabazimbi Veldwerkkamp.
1984 Anna van der Vyver ontvang die Orde van die Wawiel na meer as 10 jaar diens as offisier in die kommando. Die kommando neem deel aan die groot fakkelloop tydens die Danie Theronfees. Uit die agt Knysna Loeries verwerf drie die Presidentsverkenner toekenning, nl. Marichen Kapp, Erika Lemmer en Oona Robinson.
1985 Die kommando onderneem ’n treinrit na Magaliesburg. ’n Aantal Voortrekkers word in die lokomotief ingelyf. Die strandbewustheidkenteken, wat pas tevore bekendgestel is, word by Swakopmund aangebied. ’n Verkennernagmars gekombineer met ’n safari-ete word later die jaar gehou.
1986 Drie dienende offisiere (Erica Steenberg, Elsa Cronje en Johan van Wyk) was Presidentsverkenners. Die Luiperds en Hiënas onderneem ’n fietstoer na Hennopsrivier. Die kommando neem deel aan ’n feesoptog ter viering van Johannesburg se honderdjarige bestaan.
1987 Die tweede Suidwestoer word onderneem. Die Etosha wildtuin word besoek en ’n vyfdaagse staptog in die Visrivier is ’n groot belewenis, ten spyte van twee dae se stap in die reën. Tydens die toer breek die bus se dubbelle agterwiel af, maar behalwe vir vyf uur se vertraging is daar geen ernstige nagevolge nie. Die kommando onderneem weer ’n treinrit, en wel na Warmbad. ’n Duisend Voortrekkers en ouers van verskeie kommando’s neem deel. Die Jangroentjies (St 7 dogters) wen die kooktrofee tydens die Transvaalse Kompetisiekamp. Erica Steenberg ontvang haar silwerjuk.
1988 Ter viering van die 150-ste herdenking van die Groot Trek word ’n baie interessante toer na geskiedkundige plekke in Natal en na St Lucia onderneem. Manie Cronje en ’n aantal verkenners word op indrukwekkende wyse by fakkellig in die laer van waens op Bloedrivier ingelyf. Nig Marietjie wat tans die Kwaggas se spanoffisier is, het in 1988 aangesluit by Weltevrede Voortrekkers. Sy was in nig Annette Lemmer se span van 1990 af, en het in 1996 die Presidents Verkennertoekenning ontvang, en was ook deel van die Staatmakers in 1997.’n Twaalftal verkenners en offisiere woon die landswye Groot Trekfees van 12 tot 16 Desember by die Voortrekkermonument by.
1989 Die kommando onderneem ’n beeldbou aksie op die Saterdag van die opening van die Eddie Magid park in Fairland. ’n Weermagtent word opgeslaan, kampmeubels gebou, ’n vlot gebou en allerhande uitstallings gemaak. Vir die Rooikatte word ’n baie interessante ekologiekusus deur natuurbewaarders (slegs die tweede tot op datum (1989) in die Krugerwildtuin) aangebied. Hulle word te voet in die veld uitgeneem en slaap een nag in die boskamp. Hulle sluit daarna by die ander verkenners aan en stap die Blyderivierspoort roete.
1990 Die kommando vier op Saterdag 5 Mei 1990 sy 25ste verjaardag by Waterval feesterrein. Die program sluit in boeresport, ’n potjiekosete, inlywing, kampvuurkonsert en ’n tablo waarin die geskiedenis van die kommando uitgebeeld word. Sondagaand is daar ’n kerkparade in die NG Kerk Fairland. Die offisiere stig ’n eie span – die Brilpaddas.
1991 Die kommando het 234 jeuglede. Die kommandokamp vind plaas by die Nuutbegin kampterrein. Onderhandelings begin met die NG Kerk Fairland vir ’n vaste ooreenkoms i.v.m. die gebruik van hulle kategeselokale vir spanvergaderings. Huurgeld is R3000 p.j. ’n Verkennersokkie word deur die verkennerveldkornetskap aangebied. Ses-en-sestig kommandolede woon die sestigjaar Feeskamp by die Voortrekkermonument by. Die kommando se junior P/D koor asook die Verkennerkoor wen hulle afdelings by die Provinsie se koorfees. Jaco Buys ontvang die Presidentsverkenner toekenning en verteenwoordig Transvaalse Voortrekkers by die OVS toekenningsfunksie.
1992 Die kommandokamp vind plaas by Hoëveld kampterrein. Die kerkparade vind plaas by die Weltevreden NG Kerk. Twee vlotte neem aan die Vaalrivier vlotvaart deel. Die kommando verkry sy eie telefoon, geplaas by kommandante Anna van der Vyver se huis. ’n Kommandovaandel word in gebruik geneem.
1993 Die kommando het 207 jeuglede en die kommandokamp vind plaas by die Rustenburg Kultuursentrum (kampgeld R35 per jeuglid). Heemraadslid Gerrit du Preez, met die hulp van ’n klein komitee, laat maak vier Kommando naamborde en sit dit by die toegangsroetes na Fairland op. ’n Kommando briefhoof word in gebruik geneem. ’n Verkennertoer na St Lucia gedurende Julie word deur 51 persone meegemaak o.a. Nig Erica Steenberg en Marilize Botha as verkenner.
1994Die kommandokamp kos R45 per jeuglid. ’n Fondsinsameling word onderneem deur kaartjies vir die Alabama konsert in die Roodepoortse Stadsteater te verkoop en die wins is R2000. Met ’n skenking van hout deur ’n ouer word bankies gemaak en een in elke kategeselokaal geplaas om bergruimte aan elke span te verskaf.
1995 Die kommandokamp vind plaas op die Altelekker kampterrein teen R55 per kind. Gedurende ’n kommando uitstappie per stoomtrein na Magaliesburg word ’n Heemraadslid en vier kinders deur ’n motor in n fratsongeluk raakgery. Ruaan van Niekerk sterf ongeveer ’n week later as gevolg van sy beserings.
1996 Aan die begin van die jaar het die kommando 140 jeuglede. Die kommandokamp vind plaas by die Rustenburg Kultuursentrum. Die kerkparade vind plaas by Weltevreden NG Kerk. Anna van der Vyver ontvang die medalje vir Besondere Diens, Silwer, tydens ’n P/D kamp en Annette Lemmer die medalje vir Besondere Diens, Goud, van die Hoofbestuur.
1997Die Kommando se Staatmakerveldkornetskap herleef met 13 van die vorige jaar se verkenners wat in die Kommando wil aanbly as Staatmakers. Hulle lewer veral hulp tydens die kommandokamp wat by Magaliesburg Jeugterrein gehou word, asook by die P/D spankamp by Nevenberg. Hulle doen ook fondsinsamelings deur onder andere motors by ’n winkelsentrum te was. ’n Verkennerinlywing word by die Voortrekkermonument gehou. Die kommando se mosie aan die Kongres dat Provinsierade weer ingestel moet word, word aanvaar.
1998 Die kommando het 133 jeuglede (92 P/Ds en 41 Verkenners). Die Staatmakers het die stigting van hulle veldkornetskap by die Transvaalse Voortrekkers aangemeld. Die Kommandokamp word by die Braambosterrein gehou. Ledegeld bedra R100 per persoon. Die kerkparade word op Hemelvaartdag gehou by die Geref Kerk Noordrand. ’n Verkennertoer na St. Lucia word deur 15 persone meegemaak.
1999Die ledetal staan op 142, nl. 84 P/D’s, 34 Verkenners en 24 volwasse lede. Al die dienende Staatmakers is betrokke as offisiere. Die Kommandokamp word op die Hoëveld Terrein naby Delmas gehou. Twintig jeuglede woon vir ’n dag die Krugerfeeskamp by.
2000 Die jaar word begin met 116 P/D’s en 27 verkenners. Die kommandokamp word gehou op die Pitella kampterrein. Anna van der Vyver tree teen die einde van die jaar, na 23 jaar as kommandoleier, uit en word opgevolg deur Erica Steenberg.
2001 Van vanjaar af word die kommandokamp na Augustus verskuif, hoofsaaklik omdat daar aan die begin van die jaar vir die ouers te veel finansiële uitgawes is. Dit word gehou by die Magaliesberg Jeugterrein en kos R120 per kind. Die nagbesoek aan die Dieretuin is deur 155 persone bygewoon.
2002Die ledetal is 141 en ledegeld R160. Die kommandokamp vind plaas op die Hartbeesfontein Voortrekkerplaas. Nuwe Voortrekkers word by die Voortrekkermonument ingelyf.
2003 Vanjaar word die kommandokamp gehou by Die Hoekie en kos R160 per kind. Offisier Gerrie van Heerden klim Mt Killimanjaro en vertoon die Voortrekkervlag op die piek. Die Penningstelsel word deur die kommando ge-implementeer met die oog op erkenning vir aktiewe deelname en toekennings. Die kommando word deur die Gebied ge-evalueer geëvalueer as ’n vlak 1 kommando. ’n Groep Verkenners en volwassenes stap die Thabaphaswa staproete. Annette Lemmer, wat sedert 1975 verbonde is aan die kommando, ontvang lewenslange Erelidmaatskap van die Voortrekkers.
2004 Die ledetal staan op 152 na ’n afname van 15 drawwertjies en daar word besluit om spesiaal pogings aan te wend om meer laerskooldogters te werf. Die kommandokamp vind plaas op ’n terrein noord van Pretoria en is gereël deur Pro Act Ventures. Die kommando begin met deelname aan die Eduland projek vir leierskapontwikkeling. . ’n Uitstappie na die Planetarium word deur 109 jeuglede en ouers bygewoon.
2005 Weltevrede Voortrekkers vier hul 40ste bestaansjaar tydens hul kommandokamp te Altelekker Kampterrein. Van die hoogtepunte was die loslaat van die rooi, wit en blou ballonne, sny van die verjaarsdagkoek en ‘n kampvuurkonsert. Elke voortrekker het sy eie feesbeker met die 40-jaar-logo daarop, ontvang. Daar is die aand by die kampvuurkonsert ‘n groot 40 aan die brand gesteek om die spesiale gebeurtenis te vier. Die verkenners woon ’n nagmars in die vorm van ’n tydren, gereël deur Rondomtalie Staatmakers, by Hoërskool Linden by.
2006 ‘n Reuse gemeenskapsuitreik is deel van die viering van die Voortrekkers se 75ste bestaansjaar. 155 kg se munte is getel en bykans R10 000 oorbetaal aan Linmar.Die naweek van 27 Sept tot 2 Okt is die Voortrekkers se 75ste bestaansjaar tydens ‘n feeskamp by die Voortrekkermonument te Pretoria gevier. Daar was sowat 4 200 mense op die feeskamp en al die feeskampgangers het daar gekamp in geallokeerde staanplekke.
2007 ‘n Gesellige musiekaand met André Swiegers as gaskunstenaar word gereël in die middel van die winter deur Marilize Botha. Hiermee word ‘n klankstelsel en data-projektor vir die kommando aangekoop wat nog in die jare wat kom tot groot hulp sal wees in die kommando.
2008 Leanie Taljaard is verkies as Kommandoleier en ledetal staan op 109. Vir die eerste keer is daar ‘n kommandokamp beplan waar jeuglede self moes tent opslaan vir hul slaapplek te Wilgedraai, De Bank vanaf 7 – 9 Maart. Die verkenners word getaak om ‘n spysenierings-kenteken aan te bied vir die offisiere en dit word ‘n instelling wat in latere jare nogsteeds gehandhaaf word waartydens offisiere bedank word vir hul onbaatsugtige diens. Abland het die offisiere genooi om vir hulle ‘n spanbou-dag aan te bied te Thaba-lodge op Vrydag 31 Oktober. Die direkteure en werknemers was beindruk met al die leersame en pret-aktiwiteite waarmee die Voortrekkers vorendag gekom het en hulle kon van hul frustrasies ontslae raak.
2009 Ledetal 121.Tydens die besoek op 19 September aan Clearwater Winkelsentrum is ons Gelukbringer-beertjie gebore, Weltie en die verkenners het hom ‘n stem gegee: HOU KOERS. Weltie is tot vandag toe nog onafskeidbaar en woon gereeld GGA’s, kampe en Vorie-aktiwiteite by. Tania en Leon Croucamp, tesame met hul kommando Pietie le Roux het vanjaar hul geledere by Weltevrede gevoeg. Cornel du Plessis tree uit as offisier. Sy was 33 jaar ‘n Voortrekker en 21 Jaar aan Weltevrede verbonde as ‘n offisier.
2010 Ledetal staan op 136. Ons kommandokamp was te Kadesh Barnea vanaf 12 – 14 Maart Daar is 19 PD’s, 7 Verkenners en 3 offisiere amptelik ingelyf tydens ‘n baie opwindende en uitdagende inlywingseremonie. Die nuwelinge is oor die water van die dam getrek in ‘n roeibootjie en dan as hulle veilig voet aan wal sit, is hul sertifikaat gebrand nadat hulle die belofte afgelê het. Daar word ook vanjaar ‘n geslaagde boemelaarsaand by die NG Kerk, Floridapark gehou deur die gr. 10-span. Erica Steenberg ontvang haar voorjuk vir 50 jaar diens by die Voortrekkers: voorwaar ‘n mylpaal en ‘n pragtige voorbeeld wat aan ons gestel is. Dit is des te meer besonders aangesien Erica Steenberg in 2013 haar stryd teen kanker verloor het.
2011 Ledetal : 148 Ons skop af met ‘n Oord-pretloop te Randpark golfklub. Kommandokamp te Rocky Valley word ons geduld en vernuf beproef, want dit reën die hele naweek. Ons vier in September verjaarsdag saam met die Voortrekkers en vorm deel van ‘n golf wat oor die hele land spoel. Die vieringe bereik ‘n hoogtepunt met die skoonmaak van Lindenkoppie en die gedenksteen by die oordsaal. Die vieringe is onthul met ‘n gedenkplaat ter gedagtenis aan ons 80ste verjaarsdagvieringe.
2012 Estelle Erasmus word as kommandoleier verkies. Ledetal: 167 Die "Voluit Vorentoe" jaar was vol lekker aktiwiteite. Die Kommando skop af met 'n boeresportmiddag.Die Oord pretloop en "Bikers en Blikkies" projek word goed ondersteun. 'n Boomroete-skattejag word by Laerskool Fairland gehou. Die volgepakte Kommandokamp, van 4-6 Mei, by Magaliesberg jeugkampterrein word goed bygewoon. Weltevrede beman vir die eerste keer hulle eie amateur radiostasie o.l.v Nick Dreyer tydens die CQ Hou Koers dag. Die Kultuurleierpenning word aan Laerskool Fairland oorhandig, sodat dit aan 'n gr.7 leerder wat uitsonderlik op kultuurgebied presteer oorhandig kan word.
2013 Die "Jubel" jaar en die kommando het gejubel oor wat was, maar ook oor wat alles gaan gebeur in 2013.Op 'n hartseer noot neem ons afskeid van Erica Steenberg wat vir 52 jaar 'n Voortrekker was. Die jaar was gevul met lekker aktiwiteite vir die jeuglede. Laser Tag, Boomroete- skattejag met 'n Groot trek tema, besoek van 'n blinde persoon en sy gidshond en Vorie-Meesterkok was net paar daarvan. Weltevrede Kommando ontvang ‘n spesiale toekenning op die Gala-aand van 24 Augustus vir hul besonderse, positiewe verhouding tussen die kommando en hul ouers.
2014 Anna Herbst word verkies as Kommandoleier. Estelle Erasmus word as Oordleier van Oord-Goudrand verkies vir die tydperk 2014-2017. Ons het geopen met ‘n heerlike speletjies- en waatlemoen-middag . Ons het die KANSA Shavathon ondersteun en het R4 500 ingesamel vir KANSA. 184 geregistreerde lede. Kommandokamp was by Hartbeesfontein, Voortrekkerplaas. Estelle Erasmus, Leon Croucamp, Tania Croucamp en Anna Herbst verwerf hulle Medaljes vir besondere diens Silwer. Daar was ook kos ingesamel vir behoeftige Voortrekkers van Rustenburg. Die wêreldwye “yswater -emmeruitdaging” was baie goed ondersteun deur die Vories en Offisiere van ons Kommando.
2015 Ons het geopen met ‘n vingerknoop ratse rekkies-middag. Die hoogtepunt was ons Kommando se 50ste verjaarsdag op 5 Mei. Die Hoofleier Danie Langner het vir ons ‘n Hoofleierstoekenning oorhandig wat Weltevrede Voortrekkers bedank vir ons besondere waarde wat ons die afgelope 50 jaar tot die ontwikkeling van die Afrikanerjeug toegevoeg het. Ledegetalle 191.
Ons het die KANSA Shavathon ondersteun en R2 000 ingesamel vir KANSA. Die Kameelperde het by die Florida Babahuis ‘n groentetuin geplant met ‘n besproeiingstelsel. Die Springbokke het komberse gemaak vir behoeftiges en die Arende het met ‘n spesiale projek ‘n kankerlyertjie en haar/sy familie se lewe draagliker gemaak. Ons Kommandokamp het in Mei by Kadesh Barnea plaasgevind en was ‘n partytjiekamp duisend! Almal het aangetrek soos hulle gunstelingkarakters. Daar was ‘n kulkunstenaar wat die kinders laat skater het van die lag. Daarna het ons almal saam partytjie gehou met lekker kolwyntjies en koeldrank. Daar was twee uiters suksesvolle Penkop- en Drawwertjie oorslaapaktiwiteite aangebied: “Zoo snooze” vir die Seniors by die Johannesburgse dieretuin en “Nag in die Museum” by die Transvaalse Museum vir die Juniors. Leon Croucamp ontvang sy juk vir 40-jaar diens.
2016: Ons open met ‘n “hula hoop”-rondomtalie-draai en waatlemoenfees. KANSA R2128 ingesamel. Helderkruin Veldkornetskap word op 23 Febr. 2016 gestig. Kommandokamp by Hartbeesfontein.. Verkenners werk hard aan die Skoenprojek met lekkergoed vir Emtonjeni. Weltevrede begin ook om tydens Laerskool Fairland se Seniorkoorkamp te kook vir die koor. Dit word ‘n jaarlikse instelling.218 lede. 5 Verkenners en 1 Offsisier neem deel aan Oor die berg-staptog.
2017: Opening met die tema “Mars” – met die besoek van die Voortrekkers se eie Marsman, Edwin Le Grange. Kommandokamp te Doornkloof. R7000 word ingesamel vir KANSA. Babaklere en verskeie baba items word ingesamel vir Mosaiek. Ledetal: 237. 4 Offisiere en gesinne neem deel aan die Geskiedenistoer te Pretoriuskop en omgewing.
2018 Hein Coetzee word verkies as Kommandoleier. Die kommando open met waterkaskenades. Die Kommandokamp word in Februarie gehou te De Bank kampterrein. Gedurende die kamp hou die kommando ‘n sprayathon ten bate van Kansa. Die Verkenners gaan ook tydens die kamp na die dorp Oranjeville waar hulle van die plaaslike inwoners se hare spuit.. Altesaam R3000 word vir Cansa ingesamel. Die kommando help ook by Laerskool Fairland tydens oueraande wat ‘n instelling word. Die Gr 6 en 7 Spanne begin ook met daaglikse hysing en stryking van vlae by Laerskool Fairland.
2019 Die kommando gaan speel kegelbal vir hul opening wat absolute ongeorganiseerde pret was! Daar word ‘n Kansa sprayathon by Laerskool Fairland en die Maandag se spanbyeenkoms gehou. Altesaam R18500 word vir Kansa ingesamel. Die kommandokamp word in Mei by Altelekker kampeerterrein gehou waar die kommando se 54ste verjaarsdag gevier word met ‘n spesiale koek gebak deur Heemraad Mari van der Merwe. ‘n Heemraad van Weltevrede Nadine Coetzee klim Mount Killimanjaro waar sy ook op die piek die Voortrekkervlag vertoon. Nig Anna Herbst hou haar 50ste verjaarsdag karnaval as deel van die kommando se kwartaal afsluiting. Helderkruin Veldkornetskap stig op 30 Oktober af van Weltevrede af om hul eie kommando te vorm. Weltevrede eindig die jaar met 334 lede.
2020 Die Coronajaar. Die jaar het goed begin met ‘n nasionale offisieresaamtrek wat gehou word te Parys in die Vrystaat. Vier van Weltevrede se offisiere en hul gesinne woon die saamtrek by. Die kommando hou ‘n waatlemoenfees en waterspeletjies vir hul opening. Daar word weer ‘n sprayathon by Laerskool Fairland gehou en R22 000.00 word ten bate van Kansa ingesamel. Einde Maart word alle Voortrekker byeenkomste as gevolg van die grendeltydperk gekanselleer. Weltevrede is een van die eerste kommando’s wat ‘n E- kamp hou wat baie suksesvol was. Daar word ook E- spanbyeenkomste gehou en vasvra-aande word gereël. Al die tegnologiese kennis en harde werk word verskaf deur Gawie Naudé, een van Weltevrede se offisiere. In die onseker tye, tuis en by die Vories, word ons weer net herinner aan ons waardes om saam te staan as Afrikanervolk, positief te leef met ons oë gerig op God – allervertrouend!
2021 Die jaar het begin met Corona nog steeds deel van ons lewens. Weltevrede reël in Februarie ‘n pretloop wat baie goed bygewoon word deur al die kommandos in Oord Goudrand. Die pretloop vind plaas by Randpark Golfklub. Weltevrede bied weer die sprayathonaan by Laerskool Fairland ten bate van Kansa en samel altesame R22 232.00 in wat aan Kansa oorhandig word. Weltevrede was ook darem weer instaat om fisiese spanbyeenkomste te hou met beperkings, as gevolg van Covid-19. Op 18 April bied Weltevrede witwaterroei vir die verkenners aan, net buite Parys. Dit word bygewoon deur 50 volwassenes en Verkenners en was ‘n dag van groot pret vir almal. Weltevrede hou op 19 April kwartaalafsluiting met lekker speletjies. Weltevrede se Verkenners woon in April die Thaba en Lunsklip Gebiedskampe by en die PD’s woon SPDW by. Na die vorige jaar se kansellasie van kampe was dit lekker om weer te gaan kamp! Twee van Weltevrede se PV Kandidate, Rheinard Ferreira en Bella Meyer lê op 10 Mei hul PV eksamen susesvol af. Op 13 Mei woon Weltevrede die Hemelvaartdiens by NG Kerk Fairland by. Weltevrede oorhandig ‘n nuwe landsvlag aan die SAPS in Oranjeville op 22 Mei 2021. Hulle vlag was verslete en daar was nie geld in hul begroting vir ‘n nuwe vlag nie. Vir kwartaalafsluiting op 24 Mei kom gesels oom Jaco Ferreirra met ons oor bye en byeboerdery. Oord Goudrand se GGN vind plaas op 28 – 30 Mei en word goed bygewoon deur Weltevrede se PD’s. Ter viering van die Voortrekkers se 90ste verjaarsdag hou Weltevrede en Helderkruin op 16 Junie n gesamentlike Boerierolfees. Daar word 90cm Boerierolle verkoop en sommer baie ander lekker goed ook. Die dag is n groot sukses en ‘n deel van die wins word aan die Voortrekkermonument geskenk. Covid-19 het weer die laaste sê, en alle kampe wat in die Julievakansie sou gebeur word gekanselleer. Op 14 Julie ontvang ons die slegte nuus van die afsterwe van een van Weltevrede se oud offisiere, Leon Croucamp. Leon was baie jare betrokke by Weltevrede en die laaste paar jaar was hy by Muldersdrift Voortrekkers betrokke. Hy was ook n kursusaanbieder by Venterskroon en SPDW gebiedskampe. Sy afterwe laat ‘n groot leemte in die Voortrekkers. Weltevrede samel dierekos en ander benodighede vir die DBV en dit word aan hulle oorhandig op 24 Augustus 2021. Weltevrede reël ‘n knortjordag vir Verkenners by die Buggy Park in Muldersdrift, op 29 Augustus. Dit word bygewoon deur 50 Verkenners en daar word lekker om die baan gejaag!!! Op 12 September word ‘n gedenkdiens by die Voortrekkermonument gehou ter nagedagtenis aan die wat die laaste 2 jaar afgesterf het en word bygewoon deur Hein Coetzee, Gawie Naudé en Juliette Ferreira. Op 24 September praat van Weltevrede se PD’s direk met die ruimtestasie. Dit is die eerste keer dat enigiemand uit Afrika met hulle praat en so word ons ook deel van die stukkie geskiedenis. Weltevrede hou hul kommandokamp van 15 tot 17 Oktober by Morester kampterrein. Die kamp word deur 108 Jeuglede en volwassenes bygewoon. Kommandoleier Hein Coetzee kan nie die kamp bywoon omdat hy moet isoleer as gevolg van Covid-19 en Neef Gawie Naudé neem waar as kampleier. Dit is ‘n pragtige terrein en die kamp word baie deur almal geniet! Die inlywings en erkenningsfunksie vind op Sondagoggend plaas. Tydens die funksie word Liam Pretorius en Lizaan van den Heever aangewys as jeugleiers. Op 19 Oktober word ons ingelig van die afterwe van Liam Pretorius. Liam was deel van die Proteaspan waarvan sy ma Silezia ook die offisier is. Liam is as gevolg van ‘n fratsongeluk by sy ouerhuis in die middag van 19 Oktober oorlede. Ons almal by Weltevrede se harte is baie seer en ons sal sy vriendelike glimlaggie nooit vergeet nie. Rus in vrede liewe Liam Gebore: 27/09/2008. Afsterwe: 19/10/2021. 19 van Weltevrede se Gr 7 Rooikatte en Nig Tanja Jordaan woon die Voorslagkamp by wat gehou word 22 tot 24 Oktober by Hartbeesfontein Voortrekkerplaas. Met die herstrukturering van die Voortrekkers is Weltevrede ook nou ingedeel by ‘n nuwe oorgangsgebied, naamlik Leeuwenveld. Dit is ook die eerste keer dat hulle die PV oorhandigings reël en dit word deur Weltevrede se PV Jeuglede hul ouers, hul spanoffisier en kommandoleier bygewoon. Op Sondag 31 Oktober staan Weltvrede erewag by die gedenkdiens van wyle Liam Pretorius te Mosaïek kerk. Na twee weke van hartseer was dit ook darem weer tyd vir almal om bietjie te lag en speel. Weltevrede hou jaarafsluiting met ‘n kleurfees met waterspeletjies wat baie deur almal geniet word! Dit is die einde van 2021 en daar was baie hoogtepunte maar ook laagtepunte. Ons vertrou in God en bid vir sy beskerming in 2022.
Weltevrede se offisiere is ook aktief betrokke op vele ander vlakke in die Voortrekkers. Gawie Naudé het vir 5 jaar voor hy die kampleier van SPDW geword het, Redding by die kamp aangebied. Hy bied ook Ruimtewaarneming die afgelope 9 jaar by Oord Goudrand se GGN aan. Anna Herbst het vir 3 jaar Fotografie by Rhuskeeti gebiedskamp aangebied. Sy bied die afgelope 5 jaar Handwerk aan by Oord Goudrand se GGN en is die afgelope 8 jaar die aanbieder van Musiek en Sang by die Glaskamp. So ook bied sy die afgelope 8 jaar Strandbewustheid by Swartvlei PD Kamp aan. Sy is ook die Veldkornet vir volwassenes by Venterskroon PD kamp. Liana Grünewald bied die afgelope 6 jaar Vasbyt aan op Venterskroon PD kamp. Estelle Erasmus is die afgelope11 jaar die aanbieder van Plantekennis op Venterskroon PD kamp., Sy het vantevore Plantekennis vir 4 jaar aangebied by Hoëveld PD kamp. Sy is ook betrokke by veldstudie by Thaba Verkennerkamp. Hein Coetzee bied die afgelope 6 jaar die varswaterhengel kenteken vir gr 6 aan en het reeds vir 12 spanne van verskillende kommando’s die kenteken aangebied., Hy is ook die afgelope 2 jaar aanbieder van Snorkel by Branderkaperjolle gebiedskamp.
“Voortrekkers is ‘n groot familie. Dit is hegte vriendskappe wat regoor die land gemaak word. Dit is bande met kinders wat jou en hulle ‘n leeftyd hou en hopelik het jy ook ‘n impak op hulle lewens gemaak wat hulle op hul lewenspad sal help. Dit is nie iets wat jy moet doen nie, maar iets wat jy wil doen en die opoffering in tyd en finansieel is niks in vergelyking met die belonig wat jy kry uit vriendskappe en bande wat vir altyd en altyd sal bly.” Hein Coetzee
Tannie Anna van der Vyver was 23 jaar Kommandoleier. Hier is ‘n stukkie van haar geskiedenis:
Weltevrede Voortrekkerkommando – 1974 -2000
Begin Voortrekkers in Gr. 4 by President Paul Kruger Kommando in Troyville, Johannesburg 1948 – 1952
Woon Van Riebeeckfees by in 1952 in Kaapstad, het met die trein afgery, 3 dae en 2 nagte gekamp op die strand met die hele S.A. se Voortrekkers. Het nog die groen hemde gedra met oranje das en hoed.
Hoërskole het nie Voortrekkers gehad nie.Sluit aan by Weltevrede as offisier toe my oudste seun aansluit in 1974.
Offisier vir 2 jaar. Sekretaresse vir 2 jaar. Kommandant vanaf 1978 – 2000. Oorgeneem by Mev Raubenheimer. Kommando het eers by Laerskool Fairland bymekaar gekom daarna NG Kerk Fairland.
Kommando +-350 Voortrekkers. In 1994 het ouers besluit dit was te gevaarlik en verklein na 150 – 200. Woon al wat ‘n kamp is by. Kinders en Offisiere kampe, streek-, en landskampe in Kaap. Veldkornet by groot TVL. Kampe. Het deur 3 veranderinge van uniform gegaan. Ontvang 3 Ere-ordes.
My beste wense vergesel Weltevrede Voortrekkers.
Vir alle vorige kommandoleiers en alle offisiere van Welties, het ons net groot lof en dank vir jul onbaatsugtige diens wat jul gelewer het om 'n daadwerklike verskil in ons jeuglede se lewens te gemaak het.
1978 - 2000
2001 - 2007
2008 - 2011
2012 - 2013
2014 - 2017
2018 - 2023
Copyright © 2023 Weltevrede Voortrekkers - All Rights Reserved. Powered by Sebrus Software Solutions
We use cookies to analyze website traffic and optimize your website experience. By accepting our use of cookies, your data will be aggregated with all other user data.